Daniel 3:
"Koning
Nebukadnésar het ‘n beeld van goud gemaak; sy hoogte was sestig el, sy
breedte ses el; hy het dit opgerig in die dal Dura, in die provinsie
Babel.
Daarna
het koning Nebukadnésar die landvoogde, die bevelhebbers en die
goewerneurs, die raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die
hoofamptenare en al die bestuurders van die provinsies laat versamel,
dat hulle moes kom na die inwyding van die beeld wat koning Nebukadnésar
opgerig het.
Toe
het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs, die
raadsmanne, die skatmeesters, die regters, die hoofamptenare en al die
bestuurders van die provinsies bymekaargekom by die inwyding van die
beeld wat koning Nebukadnésar opgerig het, en hulle het voor die beeld
gaan staan wat Nebukadnésar opgerig het.
En ‘n uitroeper het hardop geroep: Julle word aangesê, o volke, nasies en tale,
sodra
julle die geluid hoor van horing, fluit, siter, luit, harp, doedelsak
en van allerhande musiekinstrumente, moet julle neerval en die goue
beeld aanbid wat koning Nebukadnésar opgerig het.
En hy wat nie neerval en aanbid nie, sal op die daad binne-in die brandende vuuroond gegooi word.
Daarom
het, op die oomblik toe al die volke die geluid van horing, fluit,
siter, luit, harp en van allerhande musiekinstrumente hoor, al die
volke, nasies en tale neergeval en die goue beeld aanbid wat koning
Nebukadnésar opgerig het.
Op grond daarvan het tegelykertyd Chaldeeuse manne nader gekom en die Jode aangeklaag.
Daarop het hulle met koning Nebukadnésar gespreek en gesê: Mag die koning vir ewig lewe!
U,
o koning, het ‘n bevel gegee dat elke mens wat die geluid van horing,
fluit, siter, luit, harp en doedelsak en van allerhande
musiekinstrumente hoor, moet neerval en die goue beeld aanbid;
en dat hy wat nie neerval en aanbid nie, binne-in die brandende vuuroond gegooi moet word.
Daar
is Joodse manne wat u oor die bestuur van die provinsie Babel aangestel
het, Sadrag, Mesag en Abednégo; hierdie manne het hulle, o koning, aan u
nie gesteur nie; hulle dien u gode nie en die goue beeld wat u opgerig
het, aanbid hulle nie.
Toe
het Nebukadnésar, toornig en woedend, bevel gegee om Sadrag, Mesag en
Abednégo te laat kom. Daarop is die manne voor die koning gebring.
En
Nebukadnésar het gespreek en vir hulle gesê: Is dit met opset, Sadrag,
Mesag en Abednégo, dat julle my gode nie dien nie en die goue beeld wat
ek opgerig het, nie aanbid nie?
As
julle dan nou, sodra julle die geluid van horing, fluit, siter, luit,
harp en doedelsak en van allerhande musiekinstrumente hoor, bereid is om
neer te val en die beeld wat ek gemaak het, te aanbid, goed; maar as
julle nie aanbid nie, sal julle oombliklik binne-in die brandende
vuuroond gegooi word, en wie is die God wat julle uit my hand kan
verlos?
Sadrag,
Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons
ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie.
As
onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit
die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos;
maar
so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal
dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.
Toe
het Nebukadnésar baie woedend geword en sy gelaatstrekke het verander
teenoor Sadrag, Mesag en Abednégo; as antwoord het hy bevel gegee om die
oond sewe maal warmer te maak as wat eintlik nodig was.
En
aan sommige van die sterkste manne wat in sy leër was, het hy bevel
gegee om Sadrag, Mesag en Abednégo te boei, om hulle in die brandende
vuuroond te gooi.
Toe
is daardie manne geboei met hulle mantels, hulle broeke en hulle
tulbande en hulle ander klere aan, en hulle is binne-in die brandende
vuuroond gegooi.
Omdat
dan nou die woord van die koning streng en die oond uitermate verhit
was, het die vlam van die vuur daardie manne wat Sadrag, Mesag en
Abednégo opgeneem het, doodgebrand.
Maar daardie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednégo, het geboeid binne-in die brandende vuuroond geval.
Toe
het koning Nebukadnésar verskrik geword en haastig opgestaan; hy het sy
raadsmanne toegespreek en gesê: Het ons nie drie manne geboeid binne-in
die vuur gegooi nie? Hulle antwoord en sê aan die koning: Sekerlik, o
koning!
Hy
antwoord en sê: Kyk, ek sien vier manne los binne-in die vuur wandel
sonder dat daar ‘n letsel aan hulle is; en die voorkoms van die vierde
lyk soos dié van ‘n godeseun.
Toe
het Nebukadnésar nader gekom na die opening van die brandende vuuroond
en daarop gesê: Sadrag, Mesag en Abednégo, knegte van die allerhoogste
God, gaan uit en kom hier! Toe het Sadrag, Mesag en Abednégo uit die
vuuroond uitgegaan.
Daarop
het die landvoogde, die bevelhebbers en die goewerneurs en die
raadsmanne van die koning vergader en aan daardie manne gesien dat die
vuur geen mag oor hulle liggame gehad en die hare van hulle hoof nie
geskroei het nie, en dat hulle mantels geen verandering ondergaan en die
reuk van die vuur nie aan hulle gekom het nie.
Daarop
het Nebukadnésar gespreek en gesê: Geloofd sy die God van Sadrag, Mesag
en Abednégo, wat sy engel gestuur en sy knegte verlos het wat hulle op
Hom verlaat het en die bevel van die koning oortree het, en wat hulle
liggame oorgegee het om geen ander god te dien of te aanbid nie, behalwe
hulle God.
Daarom
word deur my bevel gegee dat enige volk, nasie of taal wat oneerbiedig
spreek oor die God van Sadrag, Mesag en Abednégo, stukkend gekap en van
sy huis ‘n mishoop gemaak sal word, omdat daar geen ander god is wat so
kan verlos nie.
Toe het die koning Sadrag, Mesag en Abednégo voorspoedig laat wees in die provinsie Babel."
Friday, 14 February 2020
Volg:
Volg : Volg Wees Aktief vir Jesus op: https://weesaktiefvirJesus.blogspot.com EN www.weesaktiefvirjesusleefstyl.co.za

-
Vind die Bybelverse in: 1. Filippense 3: 2. Johannes 16: 3. Galasiërs 5: 4. Galasiërs 6: 5. Matteus 8: 6. Johannes 3: 7. Matteus 10: 8. Rome...
-
Hemelse Vader, ek erken dat ek 'n sondaar is. Ek kom na U toe en vra U om my te vergewe vir my sondes. Ek gee my lewe vir U. Kom ...
-
Pas A by die regte antwoord in B: A. 1. Galasiërs 5: 2. Hebreërs 4: 3. Handelinge 1: 4. Romeine 15: 5. Eksodus 23: 6. Markus 10: 7. Efesiërs...