PSALM 119:51-102:
"Ek moes die felle spot van hovaardige mense verduur, maar van u wet het ek nie afgewyk nie. Ek onderhou u bepalings van altyd af, Here: dit gee my vertroue. Ontsteltenis het my oorval oor die goddeloses wat u wet verontagsaam. U voorskrifte is vir my 'n lied
in my lewe hier op aarde. Selfs in die nag dink ek aan U, Here,
en is ek gehoorsaam aan u wet. Om u bevele uit te voer, is vir my die lewe. Ek het gesê: “Dít is my lewe, Here, om u woord te gehoorsaam.” Ek smeek U met my hele hart: “Wees my genadig, soos U beloof het. Ek het die koers van my lewe oordink
en na u verordeninge teruggekeer. Ek talm nie, ek haas my
om u gebooie te onderhou.” Die goddeloses wou my in hulle strikke kry, maar ek het u wet nie verontagsaam nie. Selfs in die middel van die nag staan ek op om U te loof vir u regverdige bepalings. Ek is 'n vriend van almal wat U dien en u bevele gehoorsaam. Die aarde is vol van u troue liefde, Here. Leer my u voorskrifte. U het aan my goed gedoen, Here, soos U beloof het. Gee my goeie insig en kennis, want ek stel my vertroue in u gebooie. Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord. U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte. Hovaardige mense beswadder my, maar ek voer u bevele uit met my hele hart. Hulle staan koud teenoor u wet,
maar ék verlustig my daarin. Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer. U wet is vir my kosbaarder as 'n oorvloed van goud en silwer. Met u eie hande het U my gemaak, my gevorm; gee my insig, dat ek u gebooie kan verstaan. Dié wat U dien, is bly as hulle my sien, want ek vertrou op u woord. Ek weet, Here, dat u bepalings regverdig is.
Dat U my laat swaarkry, is 'n teken van u trou. Gee tog vir my uitkoms deur u troue liefde, soos U my beloof het. Ontferm U oor my, dat ek kan lewe, want ek verlustig my in u wet.
Laat die hovaardige mense die slegste daarvan afkom,
want hulle het my vals beskuldig; u bevele bly my altyd by.
Laat dié wat U dien en u verordeninge ken,
aan my kant wees. Laat my volledig by u voorskrifte bly, sodat ek nooit raad-op sal wees nie. Ek smag na u redding, ek vertrou op u woord. Ek sien verlangend uit na die vervulling van u belofte
en vra: “Wanneer gee U tog vir my uitkoms?”
Ek het verskrompel soos 'n velsak in die rook,
maar u voorskrifte het ek nie verontagsaam nie.
Hoe lank moet ek nog so lewe?
Wanneer straf U my vervolgers? Die hovaardiges, wat nie volgens u wet lewe nie, het vir my meer as een keer 'n gat gegrawe om in te val. Op al u gebooie kan ek my verlaat.
Help my, want dié mense vervolg my sonder rede. Hulle het my byna van die aarde af laat verdwyn,
maar u bevele het ek nie verontagsaam nie. Hou my in die lewe omdat U my liefhet, dan sal ek u onderwysing gehoorsaam. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel.
U trou is van geslag tot geslag; U het die aarde gemaak, en dit staan vas. Ja, wat U bepaal het, staan vandag nog vas, alles is aan U onderworpe. As ek my nie in u wet verlustig het nie, het ek omgekom in my ellende. Ek sal u bevele nooit verontagsaam nie,
want deur hulle het U my in die lewe gehou. Ek behoort aan U, red my, want ek vra steeds wat u bevele is. Al staan die goddeloses gereed om my te vernietig, u verordeninge sal ek in ag bly neem.
Ek het ondervind dat alle volmaaktheid perke het, net u gebod het geen begrensing nie. Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by. U gebooie gee my meer insig as wat my vyande het,
en is altyd by my. Ek munt uit bo al my leermeesters, want u verordeninge bly my by. Ek het meer insig as ouer mense, want ek gehoorsaam u bevele. Ek het my voete van elke verkeerde pad af gehou sodat ek gehoorsaam kan wees aan u woord.
Van u bepalings het ek nie afgewyk nie, want U het my dit geleer."
Thursday, 20 February 2020
Volg:
Volg : Volg Wees Aktief vir Jesus op: https://weesaktiefvirJesus.blogspot.com EN www.weesaktiefvirjesusleefstyl.co.za

-
Vind die Bybelverse in: 1. Filippense 3: 2. Johannes 16: 3. Galasiërs 5: 4. Galasiërs 6: 5. Matteus 8: 6. Johannes 3: 7. Matteus 10: 8. Rome...
-
Hemelse Vader, ek erken dat ek 'n sondaar is. Ek kom na U toe en vra U om my te vergewe vir my sondes. Ek gee my lewe vir U. Kom ...
-
Pas A by die regte antwoord in B: A. 1. Galasiërs 5: 2. Hebreërs 4: 3. Handelinge 1: 4. Romeine 15: 5. Eksodus 23: 6. Markus 10: 7. Efesiërs...