Lukas 22:
"Jesus se dood word beplan
Die
fees van die ongesuurde brood, wat pasga genoem word, was naby. Die
priesterhoofde en die skrifgeleerdes wou Jesus uit die weg ruim, maar
omdat hulle bang was vir die volk, het hulle nog gesoek na 'n manier om
dit te doen.
Die
Satan het in Judas, wat Iskariot genoem is en een van die twaalf was,
ingevaar. Hy het toe met die priesterhoofde en die offisiere van die
tempelwag gaan praat oor hoe hy Jesus in hulle hande kan laat kom. Hulle
was bly en het ooreengekom om hom daarvoor te betaal. Hy het ingestem
en na 'n geskikte geleentheid gesoek om Jesus te verraai waar die volk
nie by is nie.
Die paasmaaltyd word gereed gemaak
Die
dag van die ongesuurde brood, waarop die paaslam geslag moes word, het
aangebreek. Jesus stuur toe vir Petrus en Johannes vooruit met die
opdrag: “Gaan berei die paasmaaltyd vir ons voor dat ons dit kan eet.”
Hulle vra Hom: “Waar wil U hê moet ons dit voorberei?”
Toe
antwoord Hy hulle: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat
'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis
waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra
u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’
En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is.
Daar moet julle dit voorberei.”
Hulle het gegaan en dit gekry net soos Jesus vir hulle gesê het, en die paasmaaltyd voorberei.
Die instelling van die nagmaal
Toe
dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom.
Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie
paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. Ek sê vir julle: Ek sal
dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle
betekenis gekry het nie.”
Daarna
neem Hy 'n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit
vir mekaar aan. Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink
voordat die koninkryk van God gekom het nie.”
Toe
neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle
met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik
dit tot my gedagtenis.”
Met
die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker
is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.
“Maar
kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die
tafel. Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is,
maar wee die man deur wie Hy verraai word!” Toe begin hulle mekaar
uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.
Die ware grootheid
Daar
het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die
belangrikste beskou moet word. Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies
is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat
hulleself weldoeners noem. Maar by julle moet dit nie so wees nie.
Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees,
en die een wat die leier is, soos die een wat dien. Wie is die
belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy
wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een
wat dien.
“Julle
is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. Net soos
my Vader 'n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek 'n koninkryk aan
julle, sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op
trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”
Petrus sal Jesus verloën
“Simon,
Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om
julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou
nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers
versterk.”
Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
Maar
Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai
voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”
Die stryd kom
Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?”
“Nee, niks nie!” was hulle antwoord.
Toe
sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie 'n beursie het, moet dit saamneem, en
net so ook 'n reissak. En wie nie 'n swaard het nie, moet van sy klere
verkoop en een aanskaf. Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy
is as misdadiger beskou,’ moet aan My bewaarheid word, want wat op My
betrekking het, gaan nou in vervulling.”
Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.” “Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle.
Jesus in Getsemane
Jesus
het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy
dissipels het Hom gevolg. Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle:
“Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”
Hy
het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as 'n mens met 'n klip
kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: “Vader, as U wil, neem tog
hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u
wil geskied!”
'n
Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. Hy het in
doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos
bloeddruppels geword wat op die grond val.
Toe
Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die
slaap, uitgeput van droefheid. Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle?
Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”
Jesus word gevange geneem
Terwyl
Jesus nog praat, kom 'n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem
is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om
Hom te soen. Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die
mens met 'n soen?”
Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”
Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!”
Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees.
Toe
sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die
familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en
stokke uit soos teen 'n rower? Dag vir dag was Ek saam met julle in die
tempel, en julle het nie 'n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou
dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”
Petrus verloën Jesus
Hulle
het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die
hoëpriester gebring. Petrus het op 'n afstand agterna gekom. In die
middel van die binneplaas was daar 'n vuur, en daar het mense bymekaar
gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 'n Diensmeisie wat hom in die
skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een
was ook saam met daardie man.”
Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”
'n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.”
Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”
Na
verloop van sowat 'n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar,
dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook 'n Galileër!”
Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”
En
onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar 'n haan gekraai. Die Here
het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir
hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal
verloën.” En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.
Jesus word bespot
Die
manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te
dryf en Hom te slaan. Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos 'n
profeet! Sê wie het jou geslaan!” En nog baie ander godslasterlike dinge
het hulle Hom toegesnou.
Jesus voor die Joodse Raad
Toe
dit dag word, het die Raad van die volk — die priesterhoofde en die
skrifgeleerdes — vergader en Jesus voor hulle laat bring.
Hulle
sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.” Maar Hy antwoord
hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; en al sou
Ek vir julle 'n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. Maar van
nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige
God sit.”
Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”
Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”
Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”
Saturday, 11 April 2020
Volg:
Volg : Volg Wees Aktief vir Jesus op: https://weesaktiefvirJesus.blogspot.com EN www.weesaktiefvirjesusleefstyl.co.za

-
Vind die Bybelverse in: 1. Filippense 3: 2. Johannes 16: 3. Galasiërs 5: 4. Galasiërs 6: 5. Matteus 8: 6. Johannes 3: 7. Matteus 10: 8. Rome...
-
Hemelse Vader, ek erken dat ek 'n sondaar is. Ek kom na U toe en vra U om my te vergewe vir my sondes. Ek gee my lewe vir U. Kom ...
-
Pas A by die regte antwoord in B: A. 1. Galasiërs 5: 2. Hebreërs 4: 3. Handelinge 1: 4. Romeine 15: 5. Eksodus 23: 6. Markus 10: 7. Efesiërs...