"En Hy het nog ‘n maal by die see
begin leer; en ‘n groot menigte het by Hom saamgekom, sodat Hy in die
skuit geklim en op die see gaan sit het, en die hele skare was op die
land by die see. En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse en
vir hulle in sy lering gesê:
Luister! ‘n
Saaier het uitgegaan om te saai. En terwyl hy saai, het ‘n deel langs
die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet. En
‘n ander deel het op ‘n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond
gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van
grond gehad het nie.En
toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad
het nie, het dit verdroog. En ‘n ander deel het in die dorings geval,
en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug
opgelewer nie. En ‘n ander deel het in die goeie grond geval, en dit
het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra:
een dertig— en een sestig— en een honderdvoudig. En Hy sê vir hulle:
Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.
En
toe Hy alleen was, het die wat saam met die twaalf rondom Hom was, Hom
na die gelykenis gevra. En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om
die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat
buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie
sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie
miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie.
En Hy sê vir hulle: Begryp julle nie hierdie gelykenis nie? En hoe sal julle al die gelykenisse verstaan?Die saaier saai die woord.
En
dit is hulle wat langs die pad is—waar die woord gesaai word, maar
sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg
wat in hulle harte gesaai is.
Net so ook is
hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word—wat, as hulle die woord
hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself
het nie; hulle is net vir ‘n tyd. Later as daar verdrukking of
vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik.En
hulle by wie in die dorings gesaai word—dit is hulle wat die woord
hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom
en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik
die woord, en dit word onvrugbaar. En dit is hulle by wie in die goeie
grond gesaai is—hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een
dertig— en een sestig— en een honderdvoudig.
En
Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of
onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te
word nie? Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en
daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.
As
iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy het vir hulle gesê:
Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle
gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie
het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem
word ook wat hy het.
En
Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer ‘n mens die saad
in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die
saad spruit uit en word groot—hoe, weet hy self nie.
Want
vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die
volle koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die
sekel dadelik in, omdat die oes daar is.En
Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met
watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? Dit is soos ‘n
mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde
wanneer dit in die grond gesaai is; en wanneer dit gesaai is, kom dit op
en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die
voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak. En met baie sulke
gelykenisse het Hy die woord tot hulle gespreek volgens wat hulle kon
verstaan; en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar
afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê."