HEBREËRS 11:
"Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.
Want daardeur het die mense van die ou tyd getuienis ontvang.
Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die
woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan
het uit sienlike dinge nie.
Deur die geloof het Abel 'n beter offer aan God gebring
as Kain, waardeur hy getuienis ontvang het dat hy regverdig was, omdat
God oor sy gawes getuienis gegee het; en deur dieselfde geloof spreek hy
nog nadat hy dood is.
Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te
sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want
voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.
En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want
hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat
Hom soek.
Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing
ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees
die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die
wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid
wat volgens die geloof is.
Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam
weggetrek na die plek wat hy as 'n erfenis sou ontvang; en hy het
weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.
Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die
land van belofte soos in 'n vreemde land en in tente gewoon met Isak en
Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.
Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.
Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug
te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom
getrou geag het wat dit beloof het.
Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit 'n
verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die
sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is.
In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die
beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en
begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.
Want die wat sulke dinge sê, verklaar dat hulle 'n vaderland soek. En as hulle bly dink het aan dié vaderland waaruit hulle
weggetrek het, sou hulle geleentheid gehad het om terug te keer.
Maar nou verlang hulle na 'n beter een, dit is 'n
hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word
nie, want Hy het vir hulle 'n stad berei.
Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel
is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy
eniggeborene geoffer,
aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem
word--want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te
wek;
daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.
Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën met die oog op die toekoms.
Deur die geloof het Jakob op sy sterfbed altwee die
seuns van Josef geseën; en hy het aanbid terwyl hy leun op die knop van
sy staf.
Deur die geloof het Josef aan die einde van sy lewe
melding gemaak van die uittog van die kinders van Israel en bevel gegee
aangaande sy gebeente.
Deur die geloof is Moses ná sy geboorte deur sy ouers
drie maande lank weggesteek, omdat hulle gesien het dat die seuntjie
mooi was; en hulle het nie die gebod van die koning gevrees nie.
Deur die geloof het Moses, toe hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word,
omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word
saam met die volk van God as om 'n tyd lank die genot van die sonde te
hê,
en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die
skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.
Deur die geloof het hy Egipte verlaat sonder om die
toorn van die koning te vrees, want hy het volgehou soos een wat die
Onsienlike sien.
Deur die geloof het hy die pasga gehou en die
besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie
sou aanraak nie. Deur die geloof het hulle die Rooi See deurgegaan soos
oor droë grond, terwyl die Egiptenaars, toe hulle dit probeer, verdrink
het.
Deur die geloof het die mure van Jérigo geval nadat daar sewe dae lank omheen getrek was.
Deur die geloof het Ragab, die hoer, nie saam met die
ongehoorsames omgekom nie, omdat sy die spioene in vrede ontvang het.
En wat sal ek nog meer sê? Want die tyd sal my ontbreek
as ek van Gídeon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die
profete sou verhaal,
wat deur die geloof koninkryke oorweldig het,
geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, bekke van leeus toegestop,
die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard
ontvlug, krag uit swakheid ontvang het, dapper gewees het in die oorlog,
leërs van vreemdes op die vlug gedryf het.
Vroue het hulle dode deur opstanding teruggekry, en
ander is gefolter en wou geen bevryding aanneem nie, om 'n beter
opstanding te kan verkry.
Ander weer het die proef van bespottinge en geselinge deurstaan, ook van boeie en gevangenis.
Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die
swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle
het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel-- die wêreld was hulle nie werd nie--hulle het in woestyne
rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond.
En alhoewel hulle almal deur die geloof getuienis ontvang het, het hulle die belofte nie verkry nie, omdat God iets beters oor ons beskik het, sodat hulle nie sonder ons volmaak sou word nie."
Tuesday, 18 February 2020
Volg:
Volg : Volg Wees Aktief vir Jesus op: https://weesaktiefvirJesus.blogspot.com EN www.weesaktiefvirjesusleefstyl.co.za

-
Vind die Bybelverse in: 1. Filippense 3: 2. Johannes 16: 3. Galasiërs 5: 4. Galasiërs 6: 5. Matteus 8: 6. Johannes 3: 7. Matteus 10: 8. Rome...
-
Hemelse Vader, ek erken dat ek 'n sondaar is. Ek kom na U toe en vra U om my te vergewe vir my sondes. Ek gee my lewe vir U. Kom ...
-
Pas A by die regte antwoord in B: A. 1. Galasiërs 5: 2. Hebreërs 4: 3. Handelinge 1: 4. Romeine 15: 5. Eksodus 23: 6. Markus 10: 7. Efesiërs...