Johannes 17:
"Jesus bid vir sy dissipels
Nadat
Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader,
die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U
het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U
Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat
hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur
is. Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My
gegee het om te doen. Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die
heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.
“Ek
het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee
het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u
woord ter harte geneem. Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het,
van U kom; want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee.
Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U
gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.
“Ek
bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My
gegee het, omdat hulle aan U behoort. Almal wat aan My behoort, behoort
aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle
verheerlik. Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in
die wêreld. Ek kom na U toe.
“Heilige
Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle
net soos Ons een kan wees. Toe Ek by hulle was, het Ek hulle in u Naam
bewaar, die Naam wat U My gegee het. Ek het hulle beskerm, en nie een
van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die een wat verlore moet gaan
sodat die Skrif vervul kan word.
“Maar
nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat
hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. Ek het u woord aan
hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld
behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. Ek bid nie
dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die
Bose moet bewaar. Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook
nie tot die wêreld behoort nie. Laat hulle aan U toegewy wees deur die
waarheid. U woord is die waarheid. Soos U My na die wêreld toe gestuur
het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur; en ter wille van hulle
wy Ek My aan U toe, sodat hulle ook deur die waarheid aan U toegewy kan
wees.
“Ek bid
egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot
geloof in My sal kom. Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U,
Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die
wêreld kan glo dat U My gestuur het. Die heerlikheid wat U My gegee het,
het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een
is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die
wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My
liefhet.
“Vader,
Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My
moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My
gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad
het.
“Regverdige
Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My
gestuur het. Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit
verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle
kan wees en Ek ook in hulle.”
Monday, 13 April 2020
Volg:
Volg : Volg Wees Aktief vir Jesus op: https://weesaktiefvirJesus.blogspot.com EN www.weesaktiefvirjesusleefstyl.co.za

-
Vind die Bybelverse in: 1. Filippense 3: 2. Johannes 16: 3. Galasiërs 5: 4. Galasiërs 6: 5. Matteus 8: 6. Johannes 3: 7. Matteus 10: 8. Rome...
-
Hemelse Vader, ek erken dat ek 'n sondaar is. Ek kom na U toe en vra U om my te vergewe vir my sondes. Ek gee my lewe vir U. Kom ...
-
Pas A by die regte antwoord in B: A. 1. Galasiërs 5: 2. Hebreërs 4: 3. Handelinge 1: 4. Romeine 15: 5. Eksodus 23: 6. Markus 10: 7. Efesiërs...